Musiekresensie

Volkspeler maak vuis

Die MOCAA-gebou en Volkspeler se album-omslag So ’n jaar gelede is die media genooi na ’n ou graansilo in die Kaapse hawe, ’n brutale, dramatiese karkas van ’n gebou wat in ’n kunsmuseum omskep gaan word. Dié foto is daar geneem. Die stomp reuk van beton, die hoë pilare, metaalbalke en roeskolle het die plek soos ’n tempel vir industriële rock laat voel. Volkspeler se derde volle album, Boksburg Bebop, het my daaraan laat dink.
  Nuut in die mengsel is Wiekie Vega se tergstem wat goed by Johan Jack Smith se sang pas en vir ’n ekstra tint grys sorg. Die album begin so subtiel soos bok ry met ’n dreunende enjin en die storie van ’n wellustige lat wat sy gatskopkar gebruik om ’n jong meisie se aandag te trek. Wat volgende gebeur, is “Mustang Sally” sonder die subtiele metafore. Volkspeler draai nie doekies om nie.
  Die lawaaimasjien skiet volgende na die naaste Boksburg-kroeg waar ’n arme bliksem hom in ’n vuis vasloop omdat hy na ’n testosteroonbul se meisie loer. “Ons doen die Boksburg Bob / ek steek jou met ’n regter / jy slaan my met die kop”. Dit moet tegnies bop wees, maar laat ons nie borshare kloof nie.
  Trent Reznor gooi so ’n lang skaduwee oor industriële rock dat dit moeite kos om nie iets te maak wat soos ’n nabootsing van Nine Inch Nails klink nie. Maar Johan kies sy klankmonsters (regte woord hier!) goed. Paul Riekert van battery9 sorg vir kitare en is die vervaardiger. Beter kan jy nie kry vir wat Volkspeler wil doen nie en die kragakkoorde maak jou ore met staalwol skoon. Die verwerkings en mengwerk is uitstekend.
  So ’n paar ongemaklike ryme en geykte beelde in die lirieke is nie genoeg om oor te kla nie en Boksburg Bebop, verdien jou aandag wanneer jy lus voel om jou kamermure met ’n voorhamer te takel. Ons het almal sulke dae.

12 Oktober 2015


Bonnie & Clyde

’n Verglanste fantasie

Holliday Grainger en Emile Hirsch in Bonny & Clyde Die storie van Clyde Barrow en sy bende sou gou vergete gewees het as dit nie vir sy groot liefde was nie. Hy en sy bende van Dallas het in die 1930’s ’n paar banke, maar veral klein winkels en plattelandse vulstasies beroof. Hulle was eintlik net nog ’n klomp skurke wat tydens die Groot Depressie ’n kortpad na ’n beter lewe gesoek het.
  Maar toe Clyde vir Bonnie Parker ontmoet, is ’n legende gebore. In koerante, nuusfilms en pulpverhale is Bonnie uitgebeeld as ’n taai vrou wat sigare rook en met ’n masjiengeweer skiet op enigiemand wat in haar pad staan. Dié beeld is grootliks op foto’s van die twee gegrond. Sy het net sigarette gerook en een van die bendelede het later getuig hy kon nie onthou dat hy haar ooit op polisie sien skiet het nie.
  Die geromantiseerde weergawe van Bonnie en Clyde leef voort en die meeste mense ken dit eerder uit die groot 1967-fliek Bonnie and Clyde as uit die dosyne dokumentêre en biografieë wat die waarheid probeer weergee het.
  Dié week begin ’n twee jaar oue minireeks in twee aflewerings wat weer die storie vertel. Die naam is eenvoudig Bonnie & Clyde. Die regisseur is Bruce Beresford, wat saam met sy draaiboekskrywers nog verder as die beroemde fliek van die feite wegdwaal.
  In die reeks is Bonnie ’n gefrustreerde meisie wat daarvan droom om ’n film-ster te word. So nie, sal sy tevrede wees met enige soort roem. Clyde is kleintyd byna aan ’n vreemde koors dood en kry van toe af visies. Een van hulle is van Bonnie en dis hoekom hy glo hulle is bedoel om saam te wees.
  Bonnie vind gou uit Clyde is ’n bankrower, maar dit skrik haar nie af nie. Sy sien ’n kans om beroemd te word, dring daarop aan om deel van sy planne te wees en begin aan hul openbare beeld werk. Sy lê selfs ’n vroulike joernalis in haar huis voor en vertel haar mooi dat sy nie net ’n meeloper is nie.
  In dié weergawe van die storie is Clyde ’n half gedienstige siel wat dalk sy lewe lank op die landerye sou geskoffel het as Bonnie hom nie betower en met haar groot drome meegesleur het nie. Al wat in dié hervertelling by die feite hou, is die einde. Dit word reg aan die begin gewys sodat jy kan weet waarop alles afstuur: Bonnie en Clyde word deur die polisie aan flenters geskiet.
  Emile Hirsch (Into the Wild) en Holliday Grainger (The Borgias) is die sterre. Sy geniet haar uitspattige rol, maar hy lyk soms of hy nie weet wat om van sy karakter te maak nie. Holly Hunter is Bonnie se ma en William Hurt is die afgetrede “Texas ranger” wat teruggaan werk toe om die Barrow-bende te vang.
  Bonnie & Clyde verglans die Depressie-era en sy twee hoofkarakters se kort tyd saam. Dis kykbaar mits jy aanvaar dat jy niks nader aan die werklike feite oor twee van die Amerikaanse geskiedenis se beroemdste misdadigers gaan kom nie.

Bonnie & Clyde, Sondag 6 en 13 September om 20:00 op Lifetime

31 Augustus 2015


The Whispers

’n Seepgladde stuk misterie

Lily Rabe in The Whispers Die feit dat Steven Spielberg een van die uitvoerende vervaardigers is, is al genoeg rede om die nuwe reeks The Whispers behoorlik uit te kyk. Jy kan dadelik sien hoekom hy belang gestel het. Dis sy soort storie en het die soort fantasie-element waarvan hy hou. Die reeks is gegrond op Ray Bradbury se kortverhaal “Zero Hour” en is geskep deur Soo Hugh, wat ook Under the Dome met Stephen se hulp gedoen het.
  Die storie speel in Washington af en draai om die FBI-agent Claire Bennigan (Lily Rabe van American Horror Story), wat ’n onbepaalde tyd by die werk afgekry het nadat haar man, ’n weermagvlieënier, se vliegtuig iewers in die ysige noorde verdwyn het. Twee jaar tevore het hul seun, Henry, na siekte skielik doof geword. En net voordat Claire se man weggeraak het, het hy uitgevind sy verkul hom.
  Claire het ’n affair gehad met Wes Lawrence (Barry Sloane van Revenge), ’n amptenaar in die departement van verdediging. Sy vrou weet van die verhouding, maar het nou ’n groter probleem om haar besig te hou. Haar dogter, Minx, het skielik begin om met ’n onsigbare vriend te gesels. Dis nie so skadeloos soos dit klink nie. Drill die onsienbare vertel vir Minx sy is deel van ’n speletjie en vertel haar wat sy moet doen om te wen. Hy maak ook so met ander kinders en het al een seuntjie oorreed om sy ma se kantoor aan die brand te steek. ’n Ander ma beland in die hospitaal nadat haar kind, aangespoor deur Drill, haar op ’n stukkende plank in ’n boomhuis laat staan en sy grond toe deurgeval het.
  Die FBI-base dink nie Claire is al gereed om weer te begin werk nie, maar hulle roep haar in omdat sy ’n kinderspesialis is. Sy moet probeer uitvind wat Drill is en keer dat hy met nog jong koppe smokkel. Intussen ondersoek Wes ’n raaiselagtige ongeluk in die Sahara, waar ’n militêre vliegtuig blykbaar deur ’n weerligstraal grond toe gebring is. Die wrak lyk nie na iets waaruit iemand lewendig kan kom nie, maar die loods het blykbaar oorleef… en verdwyn. Is daar ’n verband tussen dié twee raaisels?
  Iets amper komieklik in The Whispers is die ma’s. Hulle lyk byna almal dieselfde: blond gekleurde hare in ’n poniestert, pastel-toppie oor noupyp-jeans en aanglipskoene. Miskien is dit hoe Washington se middelklas lyk. Die kinders is klassieke Spielberg-karakters: grootoog, geheimsinnig en verlore in ’n wêreld van hul eie. Die oorspronklike verhaal gaan oor ’n inval van ruimtewesens en die kans is goed dat Drill ’n wese van ’n ander planeet is – net nie so ’n vriendelike een soos E.T. nie.
  The Whispers is ’n professionele produksie wat seepglad loop en genoeg misterie het om jou nuuskierig te hou.

The Whispers, Vrydae om 19:30 op M-Net

24 Augustus 2015


The Book of Negroes

Pynlik, maar opheffend

Aunjanue Ellis in The Book of Negroes Die inspirasie vir Lawrence Hill se topverkoper-roman The Book Of Negroes was ’n werklike boek met 3 000 name van slawe in Amerika wat tydens die revolusie die Britte gesteun en saam met hulle geveg het. Hulle is gehelp om van New York na Nova Scotia in Kanada terug te keer. Later is hulle weer na Afrika, waar hulle Freetown in Sierra Leone gestig het.
  Dit is die feitelike agtergrond vir die storie. Die res is die fiktiewe, epiese lewensverhaal van Aminata Diallo, ’n meisie wat elf is wanneer slawehandelaars in 1761 haar ouers vermoor en haar in boeie oor die Atlantiese oseaan na Amerika neem. Daar word sy aan ’n boer verkoop en begin sy op plantasies in Suid-Carolina werk.
  Haar pa het haar leer lees en skryf en by haar ma het sy geleer hoe om vroedvrou te wees. Dié kennis help Aminata, wat die naam Meena gegee word, om haar pad van een slawebaas na die ander en tot by die Britse afskaffers te vind. Hulle help haar na die oorlog om na haar geboorteplek terug te gaan.
  Die ses uur lange minireeks is in Kanada en Kaapstad verfilm en daar is ’n handvol Suid-Afrikaanse akteurs in byrolle. Cuba Gooding Jr is onder die bekende gesigte wat later opduik. Aunjanue Ellis, wat in die fliek The Help was, speel die hoofrol en gee subtiliteit aan ’n storie wat soms, soos alte maklik met minireekse gebeur, te episodies word. Daar is baie groot tydspronge en Aminata word soos ’n Forrest Gump wat gereeld naby historiese gebeure uitslaan.
  The Book of Negroes is nie ’n maklike reeks om te kyk nie. Die geweld en mishandeling is grafies en al is daar ’n romantiese liefdesverhaal ingeweef, is die atmosfeer taamlik neerdrukkend.
  Nietemin help Aunjanue Ellis se sterk spel om dit ’n opheffende uitbeelding van een vrou se onvermoeide stryd teen ’n onmenslike stelsel te maak.

The Book of Negroes, Maandae op BET (kanaal 129)

17 Augustus 2015


Happyish

Steve Coogan kry ’n maat

Steve Coogan in Happyish

Binne die eerste paar minute van Happyish maak Steve Coogan se karakter ’n grap wat so onsmaaklik is dat dit jou asem wegslaan. Dis op soveel vlakke aanstootlik, dat jy dit eers moet probeer vergeet voordat jy verder kan kyk.
  Steve het nie die draaiboek geskryf nie, so die grap is 'n klad op Shalom Auslander se naam. In die oorspronklike weergawe van die reeks het Philip Seymour Hoffman die rol gespeel en voor sy tragiese dood het hy 'n loodsepisode gemaak wat volgens die resensente heel goed was. 'n Mens wonder of daardie grap in die vroeë draaiboek was.
  ’n Mens kan ook net raai hoe anders Happyish met die Oscar-wenner in die kollig sou gewees het. Ten minste meer subtiel. Coogan, 'n Britse komediant wat vir party skreeusnaaks en verstommend genoeg volgens ander ook ’n goeie akteur is, speel sy gewone knorrige, nydige karakter. Sy humorsin is net so kras soos Auslander s’n – dié twee is omtrent vir mekaar gemaak.
  Die storie draai om Thom Payne, skeppende direkteur van ’n advertensiemaatskappy, wat in ’n groot huis in Woodstock gelukkig saam met sy gemoedelike vrou en hul soet seun woon.
  Het hy probleme? Hy dink so. Thom sluk Prozac vir depressie. Die newe-effek is dat selfs Viagra hom nie kan lig nie. Verder het sy base pas twee selftevrede jong Swede as die nuwe skeppende direkteurs aangestel. Skielik moet Thom vir “millennials” werk wat jonk genoeg is om sy kinders te wees. Hy verag hulle en hul lewensuitkyk, hulle dink hy is ’n verstokte ou knol. Wie is reg?
  In ’n onderhoud sê Steve Coogan dat Thom sy gesin wil beskerm teen ’n samelewing wat vlak en leeg geword het. Hy reken ook die draaiboek is vol skerp sosiale kommentaar. Is dit regtig? Is Thom se waardes beter as byvoorbeeld die twee Swede s’n? Maak die draaiboek ’n stelling, of is dit net ’n simplistiese aanval op maklike teikens en ’n pynlike portret van ’n bevoorregte ryk man wat nie sy middeljare met grasie kan aanvaar nie?
  Coogan sê ook oor die reeks: “Mense wat daarvan hou, is dol daaroor. Mense wat nie daarvan hou nie, verstaan dit nie.” Moet dus nie rondvertel as jy nie daarvan hou nie. Coogan-aanhangers sal van ’n duiselingwekkende hoogte op jou kop afkom.

Happyish, Vrydae om 21:00 op M-Net Edge

10 Augustus 2015


Mr. Robot

’n Kil wêreld deur groot oë

Rami Malek in Mr. Robot

Dis nie weer wetenskapfiksie nie, al laat die naam dit so lyk. Die naamkarakter in Mr. Robot is 'n geheimsinnige kraker wat 'n meesterplan het om een van die wêreld se grootste korporasies tot 'n val te bring deur hul databanke met 'n rekenaarvirus te verwoes. Op die oog af is sy bedoelings edel. As Evil Corp, soos hy en sy helpers dit noem, se boeke skielik uitgewis word, is almal wat hulle geld skuld skielik los.
  Maar Mr. Robot het meer draadwerk as sy rekenaars. Soms kan hy baie simpatiek wees, ander kere kan hy mense genadeloos manipuleer om sy sin te kry. Dis 'n ope vraag of hy met sy sabotasie sal ophou wanneer sy grootste vyand tot niet is.
  Verder is Mr. Robot nie die held van die storie nie. Die man om wie alles draai, en sonder wie die meesterplan nie kan werk nie, is die geniale jong programmeerder Elliot. Bedags werk hy vir 'n sekerheidsmaatskappy wie se grootste klant E Corp is. Snags gebruik hy sy truuks om skurke en bedrieërs te ontmasker.
  Elliot se kinderjare was donker en hy is 'n eensame man wat aan sosiale angs en depressie ly. Hy probeer sy pyn verdoof deur morfien te snuif en glo hy kan dit enige tyd los, omdat hy “versigtig” is. Hy bly in 'n mistroostige woonstel en daar is basies drie mense met wie hy behoorlik kommunikeer. Die een is sy psigiater, wat hard probeer om haar terughoudende pasiënt oor sy ware gevoelens te laat praat. Angela werk saam met hom en is 'n vriend van kleintyd af. Dan is daar sy brose buurvrou by wie hy sy dwelms koop. Sy is meer as Elliot se smous, want sy verstaan hom op 'n snaakse manier selfs beter as Angela.
  Rami Malek met sy groot oë was die eerste keer op ons TV in die sitkom The War at Home (jy sal onthou wanneer jy hom sien). Sy mees onlangse groot rol was in die 2014-fliek Need for Speed. Hy gebruik die oë baie goed om te wys hoe Elliot byna heeltyd afgesonder voel en dikwels wonder of iets regtig gebeur en of hy hallusineer.
  Dis 'n onthutsende kyk, maar daar is iets anders wat nog meer by jou spook. Dis Rami se stem. Elliot is die verteller van sy eie storie en praat deurlopend met homself asof hy twee mense is (“are you seeing this?”). Rami se lae, intense gepraat oor die elektroniese klankbaan is hipnoties. Dit voel soms asof jy na 'n trip-hopsnit deur 'n groep soos Faithless luister.
  Die wêreld soos Elliot dit sien, is so koud soos hy al ooit was. Hou ’n ogie op die kamerawerk: karakters is dikwels in die hoeke van die skerm, verdring of verdwerg deur ’n groot stedelike landskap of siellose kantoorruimte agter hulle. Dis simbolies van die ding waaroor Elliot die meeste tob – hoe klein ’n mens se lewe is en hoe hard jy moet werk as jy ’n positiewe verskil wil maak.
  Mr. Robot is 'n boeiende reeks vol atmosfeer en Elliot, soos Rami Malek hom speel, is 'n karakter wat jy nie gou sal vergeet nie.

Mr. Robot, Dinsdae om 20:30 op M-Net

3 Augustus 2015